Kontinentale filosofie is 'n term wat gereeld gebruik word veral in the Engels-sprekende wêreld om verskeie vertakkings en tradisies van filosofie mee te kenmerk wat volg vanuit die werk van sekere 19de en 20ste eeuse filosowe vanaf die Europese vasteland.[1] Dié konsep word gewoonlik gebruik om 'n kontras te skep met analitiese filosofie. Vertakkings van filosofie wat gereeld so aangedui word sluit die Duitse idealisme, fenomenologie, eksistensialisme, hermeneutiek, strukturalisme en poststrukturalisme, Franse feminisme, die kritiese teorie van die Frankfurt Skool, en sommige weergawes van die Westerse Marxisme in.[2] Daar bestaan geen duidelike skeidslyn of definisie wat presies kan aandui wat sou tel as kontinentale filosofie nie, maar in die algemeen kan daar gesê word dat kontinentale filosofie draai rondom 'n min-of-meer Kantiese tesis dat die aard van kennis en ervaring gebonde is aan omstandighede en nie direk toeganklik is vir empiriese ondersoek nie.
Die term "kontinentale filosofie" verwys nie presies na alle filosofie vanaf die Europese vasteland nie. Baie noemenswaardige Europese filosowe se werk word nie as "kontinentaal" in karakter beskou nie, maar is inderdaad duidelik deel van die analitiese tradise, soos die van Gottlob Frege, Ludwig Wittgenstein en Karl Popper. Frankryk het ook 'n florerende veld van analitiese filosofie wat langsaan die kontinentale tradisie loop. Verder is daar 'n groot hoeveelheid filosowe wat hul werk as "kontinentaal" beskou regoor die Engels-sprekende wêreld en wat hul filosofie in Engels skryf. Die skeiding tussen kontinentale en analitiese filosofie is dus duidelik nie absoluut nie.
In Suid-Afrika word kontinentale filosofie goed verteenwoordig, en Afrikaans-talige filosofie vind oorweldigend in dié tradisie plaas.[3]